Vertel my
van Vrymesselary
Deur
Seer Agb Br Viv Zaayman
Oud Groot Seremoniemeester
Grand Lodge of South Africa
Groot Losie van Suid Africa
(GESTIG/EST. 1961)
Vertel My Van Vrymesselary
‘n Verduideliking
Deur
Viv Zaayman
Vrymesselary is een van daardie menslike instellings wat deurweef is met
histories figure, inspirerende legendes, filosofiese benaderings, en geëerde
tradisies.
Kenmerkend verskil dit van alle ander organisasies. As ‘n aloue Orde bestaan dit waarskynlik al
sedert die 14de eeu. Dit word beweer dat
die vroegste gebruik van die woord “Vrymesselaar” terugdateer na 1376, maar as
‘n formele organisasie funksioneer die Orde sedert die totstandkoming van die
eerste Grootlosie in Engeland in 1717.
In Suid Afrika het die Orde egter sy bestaan te danke aan die “Groot-Ooste
van Nederland” wat die eerste masonieke losie in ons land, by name, Losie De
Goede Hoop, in 1772 in die Kaap gestig het.
Die ontwerp van die Losie De Goede Hoop se geskiedkundige gebou, is die
skepping van die beroemde Louis Thilbault.
As argitek is hy ook met die ornamentasie daarvan bygestaan, deur die
ewe beroemde beeldhouer. Anton Anreith.
Albei was dan ook lede van die Losie.
Interessant genoeg was die inwyding van die historiese Losie De Goede
Hoop destyds persoonlik deur Kommisaris-Generaal Jacob de Mist, behartig. Losie De Goede Hoop is tans een van Suid
Afrika se verklaarde Monumente.
Vrymesselary het sy ontstaan gehad by die Operatiewe Losies of Gildes van
die Middeleeue. Gedurende die Middeleeue
is die groot Domkerke, Kastele en ander belangrike geboue in Europa van
gedresseerde klip gebou wat die vaardigheid van behoorlike opgeleide werksliede
vereis het. Hierdie “operatiewe
messelaars”, soos hulle genoem is, was dan in beslote Losies of Gildes
georganiseer ten einde die gehieme van hul boupraktyke te bewaar. Na voltooiing van die groot Domkerke, het hul
dit egter goed geag om selektief sekere filosofiese belangstellende
buitestaanders in hul geledere te aanvaar.
Met verloop van tyd het Spekulatiewe Vrymesselary, die ou operatiewe
klipmesselaars vervang. Die spekulatiewe
karakter van die Orde, het mettertyd dan ook gevorder tot die ontwikkeling van
‘n masonieke filosofie van Morele Idealisme.
Tans is die Grootlosie van Suid Afrika met sy 130 ondergeskikte lede-losies
een van meer as 100 Grootlosies węreldwyd.
Altesame behels die Orde ‘n internationale ledetal van nagenoeg 5
miljoen Vrymesselaars.
Die Kern van Vrymesselary
Afgesien van georganiseerde godsdiens, het Vrymesselary sonder twyfel veel
groter invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van burgerlike gemeenskappe as
enige ander internasionale instelling.
Die Orde is paslik beskryf as een van die eerbaarste organisasies ter
węreld. Sy doelstellings en
leerstellings bly al vir eeue konstant ten spyte van gemeenskaplike, kulturele
en politieke veranderings dwarsoor die węreld heen.
Dit is dan ook noemenswaardig dat soveel uitstaande histories leiers en
hoogaangeskrewe intellektuele figure hulle tot Vrymesselary aangetrokke gevoel
het. Name soos die van – George
Washington, Benjamin Franklin, Sir John Macdonald, Winston Churchill, Franklin
Roosevelt, Sir Alexander Flemming, Harry Truman, Charles Mayo en ons eie Generaal
Louis Botha – is maar ‘n paar voorbeelde van Vrymesselaars, wat ridderlik en
merkwaardig hul invloed gebruik het, om die verloop van geskiedkundige gebeure
te verander tot voordeel van hulle medemens en van die mensdom as geheel.
Die Orde was nog altyd ‘n organisasie wat hoë ideale, gesonde beginsels,
eerbare waardes en sedelike gedrag nagestreef het. Hierdie hoekstene waarop die gevestig is, bly
steeds onontbeerlike vereistes en hulle dien as inspirasie tot grootheid, veral
op die gebied van morele ontwikkeling.
Vrymesselary was nog altyd in staat om aan die gemeenskap te bewys wat
reg of verkeerd is die samelewing. Dit
was nog altyd ‘n toonbeeld van verdraagsaamheid in ‘n onverdraagsame
węreld. Dit is ‘n organisasie wat bekend
is vir die gehalte van sy ledetal.
By wyse van sy unieke simboliese uitbeeldings en filosofiese leerstellinge,
onderskei Vrymesselary homself by uitstek, as ‘n karaktervormende
instelling. Die doel van die Orde was en
is nog altyd om toelating streng te beperk tot applikante met bewese aansien en
om hulle dan by te staan om voort te bou op hul innerlike fondamente tot eer
van groter en sterker persoonlike karakter.
Noodwendig impliseer sa ‘n beleid selektiwiteit. Waarskynlik is dit juis te wyte aan keuring
dat Vrymesselaars van uiteenlopende beroepe en verskillende kulture hulle so
heg kan saamsmee in ‘n band van opregte broederskap.
Vrymesselary het gewetensbewus en deurlopend, van die vroegste tye, probeer
om die kuns van vreedsame naasbestaan te beoefen en te bevorder sodat verskille
van ras, geloof en kultuur nogtans mense instaat gestel het om in harmonie,
waardigheid en wedersydse respek met mekaar te kon verkeer.
Die organisasie het nog nooit mure van afsondering of isolasie gebou nie.
Die Orde was nog altyd bedrywig met die bou van vriendskapsbrűe, en om
gesonde begrip te bevorder. Op hierdie
ferme fondasie en op die drumpel van sy Losies rus die sine qua non dat iedere aspirante kandidaat, hetsy prins of
onderdaan, verwag word om ‘n verklaring van geloof in God, die Almagtige Vader,
af te lę. Van hierdie gevestigde
hoeksteen en streng vereistes, is daar nog nooit afgewyk nie.
Twee vrae wat dikwels gevra word: Wat is Vrymesselary? En, Wat is Vrymesselary se Missie?
As gevolg van die Orde se veelsydige fasette en bedrywighede kan hierdie
twee vrae op verskillende wyse, afhangende van sekere uitgangspunte, beantwoord
word. Die verwantskap is egter van so ‘n
aard dat ‘n breedvoerige en helder konsep homself voordoen as antwoorde op
beide vrae opgeweeg word.
Eenvoudig gestel, bied ek derhalwe die volgende verduidelikings aan:
Wat is Vrymesselary?
Dit is ‘n
aloue węreldwye broederskap wat toegewyd is tot die veredeling van sy lede en
met hulpverlening aan andere wat in nood verkeer. Die Orde is bemoeid met morele en geestelike
waardes deur die onderrig van sy leerstellinge by wyse van simboliese
plegtighede, waarin die vakmanskap van die ou klipmesselaars en argitektuur
prominent versinnebeeld word.
Wat is Vrymesselary se
Missie?
Aangespoor
deur onwrikbare geloof in die Vaderskap van God en die Broederskap van die
Mens, behels Vrymesselary se Missie, volgens my insig, ‘n drievoudige opdrag:
Eerstens, om deur middel van sy unieke simboliese en filosofiese
leerstellings, sy lede te begeester met die ideale van moraliteit, waarheid,
hulpverlening en geestelike verryking.
Tweedens, om sy volgelinge te besiel met ‘n strewe na die bereiking van ‘n
veredele manlikheid, gekenmerk deur wysheid van geen pligsversuim teenoor God,
teenoor hul naaste of hulself nie. Dat
hulle dan die krag van oortuiging sal hę om hierdie pligte nat te kom, en dat
hulle verder ‘n reinheid van hart sal openbaar om gedrag konskwent met
eerbaarheid, regverdigheid en menslikheid te handhaaf.
Derdens, om mense van verskillende oortuigings, kulturele en intellektuele
agtergronde, saam te snoer in ‘n sirkel van broederlike kameraadskap en
diens. Sodoende dan te verseker dat as
‘n morele mag dit die verspreiding van afsondering sal kan aftakel, ten einde
die gees van verdraagsaamheid, goedertrou, liefdadigheid en broederliefde goedgunstiglik
te bevorder.
Twee Wanopfattings
Om twee algemene wanopvattings te weerlę, moet dit duidelik gestel en
verstaan word dat Vrymesselary geensins ‘n gehieme genootskap is nie, en
dat dit ook absoluut nie ‘n godsdiens is nie. Vrymesselaars is immers nie geheimsinnig
aangaande hul verbintenis met die Orde nie.
Ons geboue kan baie maklik uitgeken word aan ons internassionale bekende
embleem van die “Winkelhaak en Passer”.
Ons neem dikwels, as Vrymesselaars, deel aan gemeenskapsprojekte. Talle boeke, letterlik duisende, is al
geskryf en gepubliseer oor die Orde en menigte van hierdie boeke, duer beroemde
outeurs, is inderwaarheid toeganklik vir die publiek deur middel van hul
openbare biblioteke. Een baie bekende
boek getitel The Builders, deur die beroemde
Eerw. Dr. Joseph Ford Newton, het sy eerste verskyning in 1914 gehad en is
sederdien al vytien keer herdruk. Dit is
in Nederlands, Duits, Spaans, Portugees, Frans, en Sweeds vertaal. Hierdie uitstekende boek in ‘n Syriaanse
weergawe is selfs in die historiese stad Damaskus gepubliseer. The
Builders is, of was, op die rakke van vele Suid Afrikaanse openbare
biblioteke te sien.
Ons vergaderings is egter privaat, net soos die van ‘n private klub, die
Kabinet, of soos die van die direksie
van ‘n private eiendomsbeperkte maatskappy.
Vrymesselary is volstrek nie ‘n geheime genootskap nie. Ons is in alle opregtheid ‘n beslote
organisasie. Beslote beteken egter nie
geheimsinnig soos sommige mense te kenne wil gee nie. Ja, ons beskik wel oor ‘n paar geheime, maar
hulle is grotendeels beperk tot seker woorde en tekens van herkenning wat
simbolies deur lede van die Orde gebruik word.
Vir ‘n węreldwye instelling wat in intieme kringe beweeg en wat vertroue
moet skep, is hierdie gebruike raadsaam en wenslik. Alhoewel daar al veel oor ons kleurryke
plegtighede onthul is, verkies ons nietemin dat ons ingewydes die besondere
betekenis van ons simboliese en filosofiese leerstellinge op persoonlike vlak
moet ondervind. Daar is immers niks
onheilspellend, angswekkend of ongemaklik aangaande hierdie plegtighede
nie. Hulle is inteendeel waardig en
indrukwekkend – miskien ietwat verbysterend, maar sekerlik niks meer nie.
Vrymesselary is ‘n sisteem van moraliteit.
Dit kan nooit as ‘n godsdiens beskou of geag word nie. Ons is egter godsdienstige persone en die
Bybel, waarna die Vrymesselaars eerbiedig verwys as Die Boek van Die Heilig
Wet, is die bron van inspirasie en oordeel ten opsigte van ons onderrig en
filosofie. Die religieuse karakter van
Vrymesselary is gegrond op die primęre vereiste dat toelating tot lidmaatskap
onvoorwaardelik berus op ‘n geloof in God.
Godsdiens beoefening in die Losie is gebed.
Elke Masonieke vergadering word met gebed geopen en gesluit en alle
maaltye word voorafgegaan met gebed.
Godsdienstigheid beteken egter nie, dat ons as Vrymesselaars, die konsep
van ‘n aparte geloof nastreef nie. Dit
word aan die individu oorgelaat om sy eie weg na God te kies en dit op sy eie
manier en oortuiging te volg. Vryheid
van godsdiens lę elke Vrymesselaar na aan die hart. Geen religeuse of politieke bespreking mag
egter in die Masonieke Losie gevoer word nie.
Die internationale beroemde, Eerw. Dr. Norman Vincent Peale, wat self ‘n
geesdriftige Vrymesselaar was, som dit (vrylik vertaal) as volg op:
“Vrymesselary behels geen
dogma of teologie nie. Dit bied geen
sakramente aan nie. Volgens Masonieke
onderrig is dit belangrik dat elke man sy eie godsdiens deur middel van sy eie
kerk getrou in gedagte en daad moet volg.
Gevolglik vergader mans van verskillende godsdienstige oortuigings in
broederlike kameraadskap onder die Vaderskap van God.
Ek dink stellig dat ‘n goeie
Vrymesselaar sterker teenoor die leerstellinge van sy geloof staan vanweë sy
Masonieke betrokkenheid”.
Vrymesselary verwys eerbiedig na God as: Die Opperboumeester van die Heelal (in Engels – The Great Architect
of the Univers ).
Dit mag van belang wees om te weet dat die voortreflike teologiese
hervormer Johannes Calvyn (1509 – 1564) wat vandag geag word as die vader van
Prebiterianisme, na God verwys het in geskrifte as die ‘Groot Boumeester’ en as
‘Die Boumeester van die Heelal’. Calvyn
gebruik sulke verwysings nie minder as tien keer in sy Insitute van die Christelike Geloof.
In Calvyn se kommentaar op die Boek van die Psalms het hy die volgende
(vrylik vertaal) te sę gehad:
“Sodra ons God erken as die Opperboumeester en Skepper van die Heelal, moet
ons noodwendig in verbystering, maar met die grootste bewondering, hulde bring
aan Sy oneindige liefde, wysheid en mag”.
Masonieke Liefdadigheid
Elke Vrymesselaar, van welke religieuse oortuigings ookal, glo van dat as
dit in sy vermoë is, word dit van hom verwag om aan ‘n minder bevoorregte wat
in nood verkeer, hulp te verleen. Hy glo
dienooreenkomstig dat by God se woord in die Bybel sinsnede:
”Wanneer jy dit vir een van die minste van my broeders doen, doen jy dit
vir My” – gehoorsaam.
Gevolglik is daar węreldwyd menigte Masonieke-verwante
liefdadigheidsprojekte. ‘n Paar
voorbeelde sal insiggewend wees.
In die Verenigte State van Amerika is daar tans negentien Masonieke
Hospitale vir kreupel kinders, en drie vir kinders wat ernstige brandwonde
opgdoen het. Die verstommende aspek
aangaande hierdie hospitale, veral in die hedendaagse milieu van skokkende
mediese kostes, is dat hulle nie oor faktureerinsfasiliteite beskik nie. Deskundige mediese- en verpleegsord word
gratis, sonder enige regeringsubsidie, met liefde verskaf. Donsies en fondsinsamelings hou hierdie
hospitale aan die gang. Vrymesselary in
Noord Amerika behoor ook ‘n uitgebruide netwerk van sowat 150 klinieke vir
kinders met spraakafwykings, sowat as Dyslexia-onderrigsentrums.
Masonieke liefdadigheid in die VSA oorskry jaarliks twee miljoen dollars
per dag; in 1998 het dit 752 miljoen dollars beloop.
Hier in ons land beheer die Grootlosie van Suid-Afrika drie Masoniek
Tuistes vir Seniors, en hulle is dan ook betrokke by die Tehuis van Kwadruplieë. Hulle is ook betrokke by opvoedkundige beurse
en bedrywig met liefdadigheidstoegifte aan verdienstelike instansies. In onlangse jare het organisasies onder
andere Kankernavorsing, Skole en Serebraal Verlamde Kinders voordeel getrek uit
die fondsinsameling van Suid-Afrikaanse Vrymesselary. Hulle het ook al die hand diep in die sak
gesteek vir vloed- en droogteverligting in Suid-Afrika.
Die Masonieke Opvoedingsfonds van Suid-Afrika
lewer tans bystand aan sowat 20 studente, waarvan die meerderheid ‘n
broodwinner ouer verloor het, met beurse aan tersięre inrigtings. Een dame so bygestaan het onlangs as ‘n
mediese dokter gekwalifiseer.
Suid-Afrikaanse Masonieke Persoonlikhede
Beroemde Suid-Afrikaanse Vrymesselaars sluit
ondermeer die volgende in:
Jacob de Mist, Ds. Dawid Faute, Sir John
Andries Truter, Charles D. Bell, Francois Duminy, Lord John de Villiers, Louis
Thilbault, Generaal Louis Botha, Anton Anreith, Generaal Piet Cronje, J.N.
Neetling, Komdt-Gen P.J.J Joubert, Sir Andries Stockenstorm, Gen Ben Viljoen,
Edele Michiel van Breda, C.J. Langenhoven, Sir Christoffel Brand, Gustav
Preller, Sir George Grey, Sir Henry Juta, Jan Hendrik Hofmeyer, Conrad C.
Silherbauer, Sir Thomas Maclear, Sir Ernest Oppenheimer, Joseph S. De Lima,
Harry Oppenheimer, Arnoldus Pannevis, Morris Alexander, Louis Henri Meurant,
Maj. Sir David Baird, Sir John Buchanan, Pres. Marthinus W. Pretorius, Pres.
Jan Hendricus Brand, Pres. F.W. Reitz, Pres. F.T. Burgers, Cecil John Rhodes,
William P. Schreiner, Kol. Colin Graham Botha and Johnny Ralph – uitstaande
manne wat almal bygedra het tot die vorming van ons land se geskiedenis.
Die verhaal van Vrymesselary is een van die
groot romanse van die węreld.
Dit is ‘n internasionale broederskap, dog
word elke lid gelas om lojaal te wees aan sy eie land. In al ons onderrig is daar die primęre
oorweging dat ‘n man nie op grond van sy ras, maar wel volgens sy karakter en
waarde as ‘n man getakseer word. Soos
nooit tevore, hou Vrymesselary hierdie fundamentele beginsel omhoog om te dien
as ‘n geleide lig, ‘n inspireerende gees en ‘n ideaal ter ontwikkeling van
toekomstige leiers, met die vertroue, dat hulle altyd etiese visie, morele
stempel en onberispelike integriteit sal nastreef.
Kostes vir
drukwerk geskenk deur H E Br S R Gasson
OVD,
Grootmeester 1973 - 1983